Ek lees my twee vorige inskrywings en ek dink “hel, dit klink depressing”. Ek sal niemand kwalik neem as hulle nie weer hier kom lees nie. Dan onthou ek weer, ek skryf nie vir iemand nie, ek skryf vir myself. Om myself gesond te skryf.
Maar ek het al gaan rondlees op die ander blogs en ek sien, mens skryf naderhand ook vir dié wat by jou kom lees. Interessante wisselwerking wat hier is. As mens fyn genoeg lees, tel jy op sommige blogs die onderstrominge op en kan jy maar net wonder oor die storie agter die skerm.
Daar is niks wat mens so vinnig van jou eie ellende laat vergeet soos ander mense se ellende nie, by wyse van spreke nou. Dis dalk meer wat die sielkundige in gedagte gehad het. Ek huil oor ek nie skoene het nie, dan sien ek iemand sonder voete. Of iets in daardie lyn.
As ek objektief na my lewe kyk, dan was net ‘n derde daarvan regtig sleg. En soos die tyd aangaan, sal daardie breuk ‘n al hoe kleiner deel van die geheel uitmaak. Ek sal moet oor die 100 jaar oud word, voor dit ‘n tiende sal kan wees, maar ek sal definitief by ‘n vyfde of selfs ‘n sesde uitkom. En kan mens dan regtig kla as jou slegte jare so ‘n klein deel uitmaak van al jou jare?
Wag, ek is al weer aan die praat soos ‘n wegholtrein. Eintlik wil ek seker net sê ek het werklik nog baie om voor dankbaar te wees. Ek begin dit net nou eers weer besef.
Ek het vandag gehelp om ‘n vulletjie in die wêreld te bring. Dit was bietjie van ‘n moeilike geboorte, maar dit was vir my ‘n onvergeetlike ervaring toe daai perdjie eers daar is. So klein en tog so perfek. Ma en baba is piekfyn. Die vulletjie het nog nie naam nie, maar ons kan almal voorstelle maak. Ek dink nog aan ‘n naam.
Dit was vir my ‘n mooi dag. ‘n Sonskyndag. Ek weet die slaap gaan vannag maklik kom.



Dit is nie hoe oud jy gaan word nie…. dit is hoe vol jou lewe gaan wees. En met daai vulletjie se geboorte was jou dag behoorlik vol! Gits, ek kan net droom om so iets te ervaar.
Dit gaan die geheim wees. Leef elke dag dubbeld so hard as wat jy voorheen geleef het en sommer gou sal die stuk van jou lewe wat seer was, ‘n vae herinnering raak.
Hier by ons in die Kaap het ons een van die mooiste winternaweke gehad. Ek is besig met die groot regpak en wegpak om die wa so lig as moontlik te maak!
Dis maar ‘n trap waarvoor mens moet ligloop: om vir ander te skryf. Jy het darem nie vir my TE swartgallig geklink nie.
Eerder soos iemand wat nog ‘fighting spirit’ in haar het.
Ai, hoe verlang ek nie slaap wat maklik kan kom nie.
Ek dink dis seker een van die mooiste goed om te sien hoe ‘n nuwe lewetjie in hierdie wêreld inkom!
hehe… ek vind ook ek skryf al hoe meer vir my audience. dis eintlik soms nie lekker nie. mens moet jouself dwing om te skryf wat jy nodighet om te skryf, maar nie saak of dit entertaining of steurend of selfs lank&boring gaan wees nie.
die moeite-werd blogmaats sal bly. and if they don’t, wel, dan skryf jy nogsteeds vir jouself.