Dis iets wat ek maklik gedoen het. Huil omdat ek hartseer was, huil omdat ek bly was. Huil in ‘n mooi fliek, huil as ‘n kind seerkry. Huil as ek moes weggaan koshuis toe, na ‘n lekker vakansie by die huis. My famlie is demonstratief. Aaklige woord, laat dit soos iets klink wat mens kan opvreet.
Ons kon lekker huil, maar ons kon nog beter lag. En ons het baie gelag ook. Hulle lag nog steeds baie.
My ma se mense is downright luidrugtig en soen, groet, gesels, lag, skree, huil – ‘n kakofonie van klank, maar hulle verstaan mekaar. Hulle lief mekaar, sonder terughou, sonder pretensie. Hulle LEEF.
My pa het geglo dis okay vir ‘n man om emosie te wys. Hy en sy broers het mekaar altyd soos die Italianers gegroet. Behalwe nou vir die soen, maar met ‘n stywe druk. Ek het nie geweet hulle is ‘n uitsondering nie. Vir my was dit die norm. Ek het nie ‘n broer nie, maar as ek een gehad het, sou hy beslis ‘n man wees het wat in voeling is met sy emosies. Wat sou kon verstaan vroumense huil soms sommer net, soms sommer net vir die lekker van die skoon was van die trane.
Kies mens dalk soms die teenoorgestelde pool as maat om balans te bring? Is dit hoekom ek ‘n emosioneel kreupel mens gekies het, om balans te bring vir my baldadige geaardheid? Dit het my jare geneem om te erken dat HY die eintlike een met ‘n probleem is en nie ek nie.
HY was so fyn, so verskriklik fyn. Die wegkalwe van my selfversekerdheid, my lag, my lewe, het gebeur sonder dat ek eers geweet het dit gebeur. Dis soos daai streep wat mens oorsteek en eers weet jy’t dit oorgesteek ver by omdraai verby.
“Jy lag te hard, jy klink soos ‘n plaasmeid. Jy pis gedurig deur jou oë. Ek verpes oor-emosionele mense. Ek kan nie meer as ‘n uur by jou mense uithou nie, hulle geraas maak my mal, ek kan naderhand nie meer myself hoor dink nie.”
En op ‘n dag het ek besef ek maak verskonings om na my mense toe te gaan. Op ‘n dag het ek besef ek skrik as ek skielik hard lag oor iets. Op ‘n dag het ek besef ek byt my kieste rou aan die binnekant, maar ek huil nie meer.
Ek het nie gehuil deur die hele hofsaak nie. Ek het nie een keer in die inrigting gehuil nie. Die sielkundige het meer as een keer gesê dit sal help as ek net kan huil. Dis nie gesond om so op te krop nie. Ek WOU huil, ek wou regtig. Ek weet dat trane genesing kan bring. Ek kon nie. Nog nie.
Toe lees ek die kommentaar wat julle gelos het. En die huil het vir die eerste keer tot in my keel gekom. Dalk is dit regtig die eerste tree oppad na heelword. Om figuurlik ‘n hand uit te steek en te voel hoe ‘n vreemde hand jou ophelp. Dalk sal die huil weer eendag tot by my oë kom.
Dankie.



Ons storie het begin nes joune. Die LiefieLyfieWyfieding, toe nog my meisie, was die uitbundige een. Sorgeloos en vol lag. Ek was die donker broeiende een, die emosionele invalide. Dit een wat vir haar gesê het sy lag te hard, sy is te laf, dat sy moet ophou pis deur haar oë. . . somtyds opsetlik, maar meestal sonder om dit eers agter te kom het ek haar selfbeeld verwoes. Sy het ook stiller en stiller geword.
Ek weet nie presies waar die keerpunt was nie, maar ek het verander. Met haar hulp het ek begin heelword, is ek steeds besig om heel te word. Elke dag ‘n bietjie. Ek loop nog mank, maar ek is nie meer ‘n invalide nie. Die LiefieLyfieWyfieDing kruip nie meer in ‘n donker plek weg as sy wil huil nie, en op spesiale dae glip daardie uitbundige lawwe meisiekind van voorheen weer uit. Ek reken sy is ook besig om weer heel te word.
Ons storie het ‘n gelukkige einde, ons is nou byna 5 jaar lank al dolgelukkig getroud en dinge gaan net al beter.
Al wat ek eintlik met hierdie hele relaas wil sê is dat jy nie alleen is nie. Ons verstaan, beter selfs as wat jy mag dink.
Nou sal jy my moet verskoon, hierdie is die eerste woord wat ek van die volle verhaal gerep het in ‘n publieke forum, so dit is dan seker niks minder as regverdig dat ek iets daaroor loop skryf op my eie werf nie.
Sterkte.
Dankie vir die vertel Plaasjuppie. Dit kon nie maklik gewees het nie. Dit vertel vir my jy is verder op die pad van heelword as wat jy self dalk besef.
Ek is bly julle storie het ;n gelukkig einde, of dalk eerder begin. Die eerste dag van die res van jou lewe, ne
My storie het net ‘n lelike einde, as dit ooit die einde is.
Ja mooi jy’s reg dis Marylin Monroe!
Sterkte daar, ek sal gereeld inloer en jou gesondword volg.
Amolavita, jy is op die regte pad. Gelukkig (vir my) het ons storie ‘n ander uitslag gehad as joune, maar jou storie is nie klaar nie. Eendag sal jy iemand ontmoet wat jou waardig is. Net dit. Eendag sal iemand van jou hou vir jou en niks wil verander nie.
Ek is baie trots op jou dat jy uit jou boek gestap het en nie toegelaat het dat dit net aanhou en aanhou nie . . .
Bravo! Well Done!
Soos my Lyfie hierbo noem: sterkte!
Ek sal gereeld hier kom inloer en jou reis mee maak.
Iemand het een dag gesê ‘n storie met ‘n gelukkige einde is net ‘n storie wat nog nie klaar is nie. ‘n effens ‘af’ siening oor die lewe, as jy my vra. Onthou net, jy maak jou eie storie se einde. Sterkte, en voorspoed.
O ja, en welkom in blogwêreld, hier’s hope ondersteuning, luister en advies, at your fingertips, when you want.
Mooi loop,
Jou storie skawe aan ou wonde van my. Darem lank terug se wonde. My ma het altyd gese wat nie doodmaak nie, maak jou sterk
Jy sal ook weer op ‘n dag wakker word en weet – ek is weer my eie mens; ek is weer sterk.
Mooi loop, Lavita.
hallo, ek dink om te huil en emosie te wys is goed, maak nie saak van watter geslag ‘n mens is nie, ons is dan almal mense! (en welkom al val ek nou ook laat hier in)