Dis ‘n week sedert ek laas geskryf het. My vingers het soms met ’n punt getrek rekenaar toe, maar saans het my oë toegeval voordat ek nog behoorlik tot stilstand gekom het.
Dit was omtrent ’n besige week. Ek begin die patroon agterkom. So twee weke van die maand loop dinge hier teen ‘n gelykspoed, dan een week teen ‘n slakkepas en dan die volgende week soos ‘n kaskar wat afdraand jaag. Laasweek was die kaskar-week.
Ek dink ook ek begin in die roetine kom van vroeg opstaan en vroeg gaan slaap. Al my lewe lank kon ek wakker bly tot ounag toe, maar dan moes jy nie verwag jy sien my voor die son nie reeds hoog sit nie.
Ek besef nou hoeveel ek gemis het deur so in die nag te wandel. Sonsondegang is mooi, maar wragtig – daar is iets heeltemal anders mooi aan ‘n sonsopkoms. Dis sprokies mooi, al byt die koue sulke geniepsige happies uit mens se lyf so vroeg in die oggend. Ek maak wasemkringe soggens met my asem, probeer soos gesoute rokers om kringetjies te blaas.
My ma het gisteroggend gebel. Dit gaan goed met almal, maar ek het gehoor sy bel nie sommer net omdat bel bel is nie. My ma HOU van ’n telefoon en sy kan laaaank praat. Dan vertel sy my van mense wat ek, volgens haar, mos kan onthou van daardie dag soveel jare gelede toe ons daar en daar by die en daai was. ”Ja man, Sussa, jy MOET onthou. Die een het so gemaak en so gelyk en toe sê daardie een dit en dat. Onthou jy nou?”
Ek het lankal geleer om nie eers meer te sê ek weet nie van wie sy praat nie of dat ek nie onthou nie. Dit maak die draai van haar gesprekke net ekstra langer. So, ek hoor meeste van die tyd hele relase oor mense wie ek nie die vaagste benul het van waar ek hulle ken of behoort te ken nie, maar ek gesels lustig saam asof ek hulle jare lank al ken en net anderdag nog weer gesien het.
Gister het sy net so effentjies en bolangs gepraat. Toe vra ek haar of iets fout is. Voor ek kon klaar vra en voor sy so huiwerig-huiwerig begin praat het, het die beklemming my klaar gevat. Ek het sommer geweet dis iets oor HOM.
”Sussa, HY was gisteraand hier by die huis. Hy wil weet hoe gaan dit met jou en wat hoor ons van jou. Hy maak nog steeds asof jy jou alles verbeel het en asof hy die verontregte een is. Sussa, ek wou nog my ’pose’ hou, maar toe jaag jou pa hom weg. Jy ken jou pa, hy word min kwaad. Sussa, jou pa was soos ‘n besetene. Ek dink jou pa het te lank stilgebly deur alles en dit het gesweer binne-in hom. Gisteraand het die sweer gebars. Jou pa het gedreig om hom te skiet as hy weer sy voete hier sit of as hy jou probeer opspoor.”
Iets het sommerso lig geword in my. My pa het so min gepraat deur alles dat ek nog al die tyd wonder of hy dalk dink ek moes harder gewerk het aan my huwelik. Of hy my tog maar verkwalik en dalk nie alles glo wat ek vertel het nie. Nou besef ek eers dit alles het my pa dalk harder as wat ek besef het, getref. My pa, wat eintlik makliker as ander mans emosies wys, het hierdie kwaad gaan wegbêre omdat dit dalk net te veel was vir hom.
“Ma, sê vir Pa ek sê dankie.” Toe my ma nog wil vrae vra… “Pa sal weet hoekom ek dankie sê. Gee ma maar net die boodskap.”
Van gister af bly dit so lekker lig in my. Amper soos ‘n kind wie se pa ‘n “bully” vasgevat het. Ek is nie ligsinnig nie, ek sal seker nie maklik weer sommer net ligsinnig oor die lewe kan wees nie, maar op ‘n vreemde manier voel ek meer geborge as in al die maande wat my familie my deur alles gedra het.
Dankie Pa.